Podcasts by Category

God se Woord VARS vir jou Vandag

God se Woord VARS vir jou Vandag

Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet

JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke oordenking bevat ‘n kragtige Bybelvers, met ‘n paar woorde van inspirasie, hoop en aanmoediging wat daagliks per e-pos na jou slimfoon, tablet of rekenaar gestuur word. Jy kan na die klank luister of die teks lees. Dit gaan alles daaroor om jou te help om God se stem te hoor, sodat jy in ‘n ryk, dinamiese en kragtige verhouding met Jesus kan leef. God se Woord in Afrikaans. Vars, vir jou, elke dag.

1180 - Een Blinde Lei ‘n Ander
0:00 / 0:00
1x
  • 1180 - Een Blinde Lei ‘n Ander

    Lukas 6:39,40 Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek.’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word. (NLV) 

    Dis ‘n ernstige en gevaarlike situasie wanneer enigiemand hul vertroue in ‘n persoon of enigiets anders as die waarheid van die Evangelie van Jesus Christus stel. Selfs Christene (in werklikheid veral Christene), kan hul geloof tot belaglike en gevaarlike uiterstes neem.

    Ja, mense word mislei om gewelddadig op te tree; en dit is hoe die Kruistogte, daardie verskriklike godsdiensoorloë tussen 1095 en 1291 ontstaan het; asook die Katolieke Inkwisisie van die 12de tot die middel van die 15de eeu. Ja, en vandag kry ons dit in die vorm van die selfmoordbomaanvallers van ander godsdienstige groeperinge. 

    Vir 'n Christen is die waarheid van die Evangelie 'n onweerlegbare werklikheid. Maar daar is deesdae baie invloedryke leraars, wat Christene oproep om op te staan, om hul regte terug te eis, om hul land (in watter land hulle ook al woon) met mag in 'n Christelike een te verander. Hulle gebruik oortuigende argumente … en tog mis hulle die punt.

    Lukas 6:39,40 Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek.’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word. (NLV)

    Moenie toelaat dat blinde gidse jou op 'n dwaalspoor lei nie. Die doel van die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus, is nie om dit op ander af te dwing nie. Soos iemand eenkeer gesê het, wanneer jy Christenskap met mag begin meng, het jy kort voor lank leiers wat besig is om ‘n kruis op iemand anders se skouers af te forseer, eerder as om dit vir hulself op te neem.

    Tree dus oordeelkundig op. Kies jou onderwysers versigtig. Ja, ek weet ons moet opstaan teen die kwaad, maar onthou, die Evangelie van Christus is 'n Evangelie van God se liefde, sy vergifnis, sy begeerte om mense na Hom toe te trek.

    Moenie in die duiwel se slagyster trap nie.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Thu, 02 May 2024
  • 1179 - Wees Vrygewig

    Lukas 6:38 As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.” (NLV) 

    Gee jy om as ek jou 'n ietwat ongemaklike vraag vra? Hoe vrygewig is jy? Wat is jou eerste reaksie wanneer jy iemand in nood sien?

    Vrygewigheid kom in baie verskillende vorms voor. Jy kan vrygewig wees met jou lof, jou vriendelikheid, jou begrip, jou tyd en ja, natuurlik, met jou hulpbronne.

    Dit is so maklik om suinig te wees te midde van die besige lewens wat ons lei; veral wanneer ons onder druk voel en self uitgehonger is vir ander mense se aanvaarding. En sodoende, beland ons meer en meer, in 'n afwaartse spiraal waar elke seën wat ons gedink het ons het, in die niet verdwyn.

    As jy jouself ooit in daardie plek bevind het, of as jy in 'n oomblik van eerlike oorweging erken dat jy inderdaad 'n bietjie suinig geword het, mag Jesus se woorde jou bemoedig:

    Lukas 6:38 As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.” (NLV)

    Ek is nie seker dat ons dit as 'n belofte moet lees nie, maar eerder as 'n eenvoudige feit. Dit is maar hoe dinge werk. Wie, in jou sfeer van invloed, het nou ‘n onselfsugtige aksie van jou nodig? 'n Woord van bemoediging, 'n klein bietjie vriendelikheid en, ja, selfs hulp op 'n praktiese vlak?

    Die manier waarop jy aan ander gee, is die manier waarop God vir jou sal gee. Wees vrygewig.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Wed, 01 May 2024
  • 1178 - Die Straf Wat Jy Uitdeel

    Lukas 6:37 Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word. (NLV). 

    Hoe reageer jy op mense wat die verkeerde dinge doen? Hoe hanteer jy diegene wat jou seermaak; diegene wat nie van jou hou nie; diegene wat jou op een of ander manier verkleineer? Sê my, hoe reageer jy?

    Hoe reageer ons gewoonlik? Ons wil hulle straf. Klink dit ‘n bietjie konfronterend? Trap ek nou op jou tone? Wag ‘n bietjie! Iemand het jou die harnas ingejaag en dadelik is jy reg om met hom af te reken. Afhangende van of jy 'n sagter, vriendeliker persoon, of 'n meer konfronterende een is, sal jy óf die seer diep in jou binneste voel en uit die situasie onttrek, óf sommer lus voel om hom met die vuis by te kom.

    Hoe jy ook al reageer, diep binne-in jou sal jy hom veroordeel en op een of ander manier dink aan 'n plan om hom te straf. Miskien sal jy net heeltemal onttrek? Of miskien sal jy aanhou om nare dinge oor hom te dink? Of miskien sal jy hom dwarsboom? Of miskien sal jy sy naam swartsmeer en vir ander teen hom waarsku, en sê dat hy nie vertrou kan word nie.

    Daar is 'n magdom verskillende opsies vir jou beskikbaar, maar watter een jy ook al kies, dit behels vergelding, en jy gee hom, volgens jou, net wat hy verdien! Tensy … wel, hier is wat Jesus hieroor sê:

    Lukas 6:37 Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word.(NLV).

    Miskien is dit vir jou 'n bekende Skrifgedeelte, maar hoe gereeld pas jy dit toe op die mense wat jou seergemaak het, wat jou sleg behandel het? Jesus praat vandag baie duidelik met ons elkeen oor ons verhouding met daardie mense.

    Moet hulle nie oordeel nie, moenie hulle veroordeel nie, maar vergewe hulle. Dit hou gevolge in vir ons almal; nie net in terme van ons verhouding met daardie mense nie, nie net in terme van ons eie welstand nie, maar in terme van hoe God óns sal behandel. Leer om te vergewe.

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Tue, 30 Apr 2024
  • 1177 - Wie is Jesus? Episode 4

    Belasting. Ons almal betaal dit - dit is 'n feit van die lewe. Maar hoe sou ons in Jesus se tyd gevoel het as die tollenaars oneerlik was? Hoe sou dit gewees het as hulle belasting vir 'n vyand, die Romeine, ingevorder het, terwyl hulle onder die tafel hul eie sakke gevul het? Hoe sou ons dan oor belasting gevoel het?

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Tue, 30 Apr 2024
  • 1176 - Die Vriendelikste Persoon in die Vertrek

    Lukas 6:35,36 “Nee, julle moet ook julle vyande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie. Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” (NLV) 

    Mense verskil hemelsbreed van mekaar. Mense is uniek. Jy kan dalk op een vlak hoogs begaafd wees, terwyl die volgende persoon op 'n ander terrein hoogs begaafd is. Dit is hoe dit veronderstel is om te wees.

    Die fout wat ons egter maak, is wanneer ons dink dat (a) almal op ‘n spesifieke terrein net so goed soos ons moet wees en (b) dat hulle dom is, as hulle nie is nie.

    Klink dit nie 'n bietjie genadeloos nie? Glad nie. Ons doen dit die hele tyd. Hoe dikwels het jy al gevind dat jy sê: "Ek verstaan net nie hoekom daardie persoon nie ..." Wat jy eintlik sê, is: “Hoekom sien hulle dinge nie soos ek dit sien nie? Hoekom is hulle nie goed op my terrein nie?”

    Ek het die eerste gedeelte van my lewe neergesien op mense met 'n laer IK as myne.  Ek het hulle verkleineer en hulle minderwaardig laat voel.  Ek het nie eers die moontlikheid oorweeg dat baie van hulle ‘n talent gehad het, wat ek nie het nie; iets baie meer waardevol, iets baie belangriker - Emosionele Intelligensie; of  sagmoedigheid, 'n vriendelikheid wat ek nog nooit gehad het nie; of die vermoë om die foute van hul vyande oor die hoof te sien en om goed te wees vir mense wat vir hulle sleg behandel.

    Lukas 6:35,36Nee, julle moet ook julle vyande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie. Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” (NLV)

    Ja, my vriend, die vriendelikste persoon in die vertrek is dikwels die wysste persoon. Wees lief vir jou vyande.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Mon, 29 Apr 2024
Show More Episodes